Vandag lei alle paaie na die gewilde Agri Megaweek een van die grootste landbouskoue in Suid- Afrika. Ek (Zonnette) en Anneke Kriek is ook oppad. My heel eerste besoek aan Bredasdorp asook die Megaweek.
Ons eerste stop is Greyton en ons word omring deur groen lande wat net geen einde ken nie. . Wat 'n pragtige klein dorpie! Ons het besluit om sommer op pad na Bredasdorp hier in te loer by 'n gastehuis wat dalk geskik kan wees as konferensiefasiliteit vir van ons kliƫnte.
Na ons inspeksie is ons weer volstoom op pad,...Caledon.....Napier.....Bredasdorp!
By die BKB Terrein was dit een groot miernes van bedrywighede soos uitstallers hulle haas om hul produkte uit te stal en te bemark. Net so na vyf kon ek en Anneke ook met trots kyk na die Boland Travel uitstalruime. Ons was reg om Boland Travel se naam hier hoog te hou! Almal moet een of ander tyd op vakansie gaan en dit is waarvoor ons daar is - om in alle reisbehoeftes te voorsien. Besoekers kon nie ons stalletjie verbyloop nie!! As die reisgogga gebyt het moes hulle net hul reisstories met ons kom deel. Ons het elke dag reggestaan om van hulp te wees met inligting vir jong skoolkinders wat eendag op passasierskepe wil gaan werk, tot jongmense wat droom oor hul ideale wittebrood en vakansie of 'n bootreis op die Sinfonia!! Dit alles het dit die moeite werd gemaak om elke dag ons stalletjie met trosts te beman.
Ons het in die pragtige Annie's Cottages gebly en heerlike etes kon geniet word by die plaaslike restaurante. Die pragtige dorpie Struisbaai was net 'n paar kilometer weg en ons kon na 'n lang dag die skilderagte plekkie besoek. Agulhas was natuurlik 'n moet en ons het ons gehaas na die mees Suidelike Punt van Afrika!! Om die aand af te sluit het die mense by Angelo's , 'n plaaslike restaurant, gesorg vir 'n heerlike ete!
Vrydag het vinnig aangebreek, dus was dit tyd vir oppak en natuurlik die einde van nog 'n megaweek.
Vyfuur het ons Bredasdorp se stof afgeskud en die pad gevat na ons tuisdorp en geliefde Paarl!
-Anneke K en Zonnette-
No comments:
Post a Comment